Uit sync met die wêreld.

Daar was nog altyd ’n paar dinge in my lewe waarop ek kon staatmaak. Ek het nog altyd gemors. Kos, melk, soya sous, Monkeygland burgers by die Spur. Noem dit en dit was al op my klere ’n keer of wat. Iets anders waarmee ek goed was, was die vermoë om sonder rede neer te slaan, óf die een te wees wat die stukkende stoel uitkies om op te gaan sit. Wat ek wel egter ook kon goed doen was om altyd met flair op te staan asook om grappies te maak oor al die vreemde vlekke op my klere. Om met myself al amper 43 jaar saam te leef, moes ek leer lag vir al die vreemde situasies waarin ek al beland het.
Buiten die feit dat ek altyd kon opstaan en aangaan, kon ek nog altyd op my brein reken. My brein kon my nog altyd uit iets dink of praat of iets skerps uitdink om kwyt te raak. Vandat Lupus egter in my lewe ingewals het, het my brein ook besluit om op sekere tye vakansie te hou en my dan met ’n mop in my kop te laat. Wat de hel kan ’n mens met ’n mop vir ’n brein doen? Ek moet dan vrede maak om maar in die bed te lê (want my liggaam is tydens hierdie sessies ook MIA) en Candy crush te speel, want selfs om te spel was buite my vermoë. Gelukkig kon ek nog altyd oor die brain fog (ek moes nou mooi fokus op die spelling) kom en het dan weer opgestaan en aangegaan en probeer grappies maak oor die crappy situasie waarin ek myself bevind het.
Deesdae gaan dit aansienlik beter. Ek is meer gesond as siek. My brein is nie meer konstant ’n mop nie. Ek kan skryf, wat my gesond gemaak het op soveel vlakke. So, wanneer so ’n siek sessie my tref dan is ek super depressed, want, regtig? Is ons nie al ’n duisend keer hierdeur nie?
En die week het iets my weer getêkkel. Of dit Lupus of Fibro of Sjögren was, weet geen mens nie, maar dit het my platgetrek. So buiten my liggaam wat nie lekker werk nie, is my brein ook weer weg, maar daar is ook ander onrusbarende gevolge wat my uitstres. Ek voel totaal uit-sync met die wêreld. Toondoof, wat ek nog nooit was nie. Ek het tans ’n onvermoë om sinne te voltooi en myself uit te spreek wat tans helse konflikte in Huis-Naudé veroorsaak. Ek is tans clueless wat my kinders betref en waardeur hulle gaan. Dit voel of ek strompel-dans, ’n halwe maat agter ander en het my vermoë om grappies te maak daaroor verloor. Selfs my karakters (in boek 3) is tans ontoereikend en sit vas in ’n situasie waarin hulle dalk vir altyd gaan bly. Tensy my brein weer ’n comeback gaan maak en hulle bevry.
Ek probeer regtig om hierdie nou af te sluit met iets positiefs, maar my mop hou my terug. Geseënde Kersfees almal!

Deel die artikel met vriende op:


Lewer gerus kommentaar, sal graag van jou wil hoor.

One comment on “Uit sync met die wêreld.”

  1. […] het om in te klim nie. Dit is maar gewoonlik ’n normale verskynsel en my brein was nog MIA (sien blog). Volgens Paul sou ons ’n oulike winkeltjie naby TUT besoek, waaroor ek gefrons het, want die […]

Volg Leandra hier op Facebook