Die Meisie wie die wolf se gat gaan skop – Deel 1

Rooikoppie en die dag toe Wolf sy naam gekry het.

Lupus is a systemic autoimmune disease that occurs when your body’s immune system attacks your own tissues and organs. Inflammation caused by lupus can affect many different body systems — including your joints, skin, kidneys, blood cells, brain, heart and lungs. Mayo clinic

Lupus takes its name from the Latin word “lupus”, meaning wolf. This is because a lupus-caused rash on a person’s face makes the person’s face look like the face of a wolf. Wikipedia

Ek het nog altyd geweet van die Wolf, maar kon nog nooit sy buitelyne identifiseer en vir hom ’n naam gee nie. Die dag toe ek uiteindelik by ’n dokter uitkom wat moontlik ná jare van siekwees antwoorde kon gee was ek semi-uitgefreak, maar ook hoopvol. Ek het ’n dag verlof ingesit en die dokter gaan sien met my 35-jarige lyfie, rooiblonde hare (dit was my boksiekleur op daardie stadium) en kort sonrokkie. Die groot man met die grys hare het by die ontvangsarea ingedonder. Nie onvriendelik nie, net hél dominerend. Die Alpha-male van rumatoloë. Hy het opgekyk van ’n leêr en geroep: “Mev Naudé?” Ek het opgekyk. “Kom, Rooikoppie.” My eerste gedagte: Shit. Is my hare só rooi? Ek het maar opgestaan en hom na sy kantoor gevolg. Hy het na my gekyk en opgemerk: “Nee, wat. As ek jou nou van naby bekyk, kan ek sien jy is nie meer so ’n spring chicken nie.” Ten spyte van my openlike frons oor sy opmerking moes ek toe my hele geskiedenis, vir die soveelste keer, aan ’n dokter voordra. Hy het al die vorige doktersverslae en toetse op my leêr bestudeer en my eers gestop ná my simpel grappie dat dit dalk net ’n opportunistiese virus is.

“Mevroutjie, jy het nie ’n virus nie, maar ’n chroniese, ongeneeslike siekte met die naam, Lupus.”

“Wa …” was my intelligente reaksie, wat geëindig het in ’n oopmond-kyk wat die teendeel gespreek het.

“Dis ’n siekte wat nooit gesond gaan word nie en waarvan jy kan doodgaan.”

“Wa…” daar gaat ek alweer met die wêreld se idiotiesste uitdrukking. Gelukkig het dit nie gelyk of hy dit enigsins raakgesien het nie.

“Maar, wees gerus. Daar is medisyne wat gebruik kan word om te keer dat jy nie doodgaan nie.”

Doodgaan. Ekskuus? Hierdie keer het ek nie eers probeer praat nie, want die dokter het blykbaar vergeet dat ek daar is en net voortgegaan.

“Daar is medisyne wat baie suksesvol werk, maar dit kan jou blind maak. So jy moet elke jaar ’n oogspesialis besoek om seker te maak dat dit nie jou oë toksies maak nie. Dan is daar ander medikasie wat jou vet gaan maak én osteoporose veroorsaak en ander meds wat jou immuniteit so kan verlaag dat dit jou witbloedseltelling negatief beïnvloed.”

Wat? Whooa, Boetman. Vet word? Weer? Ek het nou net van my laaste kind se geboorte, vyf jaar gelede, na my oorspronklike vorm teruggekeer. Hy gaan egter verder terwyl ek vashaak by die onbelangrikste newe-effek van alles en besef dat sy relaas verby is toe hy opstaan.

“Enige vrae, mevroutjie?” Hy identifiseer my gesigsuitdrukking korrek as bomskok en klap my saggies op my skouer. Saggies? Sy hande is massief.

 “Toemaar, Ounooi, dit is werklik nie jou skuld of iets wat jy verkeerd gedoen het nie. Dit is maar soos ’n pokerspel waar jy nie die kaarte kan beheer wat jy optel nie. Lupus is nou ongelukkig jou kaart, maar ek kan om die hoek keelaf gesny word vir my beursie, of ’n ander ou  kan deur ’n bus omgery word. Sterkte.” Hy het saam met my na die ontvangsarea uitgestap, die dames beveel om my siekte as chronies by my mediese fonds aan te meld en my ’n voorskrif in die hand gestop. Hy het toe sy volgende slagoffer nadergeroep.

Hoe het dit my laat voel? Soos die ongelukkige ou wat deur die bus omgery is.

Dit het my jare geneem om met die realiteit van ’n chroniese siekte te deal en ek glo die manier hoe hy dit hanteer het, het die grootste aandeel daarin gehad. Daar was wel ’n positiewe uitkoms wat vanuit hierdie treinramp ontstaan het en dit was dat ek uiteindelik, na jare se siekwees, uitgevind het wat met my fout is. Ek het ook kliniese bewyse gekry dat ek my eie slegste vyand is (ha ha, Lupus grappie). Ek kon hierdie ook as ’n uitstekende voorbeeld, met my opleiding aan professionele mediese personeel in pediatriese palliatiewe sorg, gebruik hoe om nié slegte nuus aan pasiënte en hulle families oor te dra nie. Ek  is ook definitief versigtiger vir busse as ek oor die straat loop.

Ek dink ek het die dokter net een keer weer daarna gesien en toe het hy sy praktyk na iewers by die kus verskuif. Ek is gelukkig nou by die ongelooflikste rumatoloog en is uiters dankbaar dat my paaie nie weer die dokter s’n gekruis het nie. Is ek kwaad vir hom? Nee, ek wens hom alles van die beste toe, maar hoop hy gaan versigtig wees. Daar is seker ook busse daar waar hy is en wie weet. Shit happens.

Deel die artikel met vriende op:


Lewer gerus kommentaar, sal graag van jou wil hoor.

4 comments on “Die Meisie wie die wolf se gat gaan skop – Deel 1”

  1. Die wolfie wie se gat jy so skop het darem gemaak dat jy jou skrywes met ons deel. Wat ‘n bonus. Dit is wat jou loon is …
    Sy gawe van sy kroon, beslis.

  2. My hart opnuut seer dat jy die ongeloiflike wrede siekte het Landie maar ek glo nog steeds vas God gaan jou fesond maak Hy kan nie vir n ma NEE se wat so lief vir Hom is nie wag maar en sien

  3. Wow! Hoe onsensitief kán ‘n mens, ‘n dokter wees? Wanneer kry ons Deel 2 van die verhaal, ek sal dit graag lees.

    Dit herinner my sterk aan ‘n spesialis waarmee ons paaie gekruis het toe ek op hoërskool was. Ek het onbeskryflike sere aan my tong gekry wat my na verskeie dokters geneem het. Totdat ons op ‘n keer by ‘n nuwe een in Johannesburg aangekom het wat sonder enige diskresie verklaar het: julle hoef nie te bekommer nie, dis nie kanker nie. Nou ja, nodeloos om te sê was my ma woedend en ek grootoog, maar die druppels wat hy voorgeskryf het, het sowaar gewerk!

    Hoop die ou buffel se medisyne het jou ook verligting gegee.

Volg Leandra hier op Facebook