Die meisie wie die wolf se gat gaan skop – Deel 3

Die dag toe die meisie net wou Wegkruipertjie speel.

Dit is Wêreld Lupus dag. Twee jaar gelede was daar ’n meisie wat opgewonde haar manuskrip-baba by ’n Postnet afgelewer het en ’n pragtige foto op Facebook geplaas het. ’n Jaar gelede het dieselfde meisie  met vuur en vreugde haar manuskrip afgerond vir publikasie en het blinkoog die tweede boek klaargeskryf. Dis sy wat ook amper arrogant verklaar het dat sy die meisie is wie Lupus, oftewel die Wolf, se gat gaan skop. Hoekom het hierdie dag soveel betekenis? En waar is die meisie vandag ’n jaar later? Ernstig besig om te wonder wie, wie se gat op die oomblik skop. My vermoede is dat ou Wolfie voorloop met punte terwyl ek iewers in ’n bolletjie sit en wegkruip.

Hoe het dit gebeur dat die dapper meisie vandag voel of sy ernstig gefaal het? Dat sy alleen gelos wil word om haar selfoonspeletjies te speel en haar zombiestories te kyk? Wat net so nou en dan met die werklikheid kontak maak. Netbalwedstryde bywoon, afsprake maak en nakom, gesinslede voer? Dit is ’n baie goeie vraag. Wat het met my gebeur? Was dit die afgelope ses maande waarin ek vir elke kriesel energie moes verantwoording doen? Getref was deur ’n onvermoë om te dink en te skryf? Frustrasie, met my lewe wat nie aan die gang kan kom nie, ervaar? Dat ek nie kan beplan nie, omdat elke dag ’n nuwe uitdaging en soms simptoom na vore bring, ten spyte daarvan dat ek alles volgens die reëls doen en steeds siek bly?

Vanoggend was een van daardie dae. Ek het moeg opgestaan (normale verskynsel), het pyn in  my lyf, op my vel, tot op my kopvel ervaar. So, toe ek na my memories op Facebook kyk word ek gebombardeer deur my vorige-jare-self se absolute en naïewe geloof dat die stryd wat gevoer word, gewen kan word. En dis hoekom ek vanoggend, ten spyte van alles wat teen my getel het, gaan stort en hare was het. Hel, ek het selfs maskara opgeplak. Nou sit ek in die Wimpy, besig met my tweede koppie koffie, terwyl ek my lot by my getroue laptop-mater bekla (betik?). Is daar ’n wonderwerk in wording? Gaan ek uitdraf en begin sing soos ’n Disney-prinses?

Nee, maar wat ek wel vanoggend besef het, is dat die Stryd teen Lupus nie ’n eenmalige boksgeveg is nie. Nee, dit is ’n bloedige oorlog met moordadige veldslae. (Ek wil net noem dat ek ’n ekspert is op oorloë: Game of thrones, Lord of the Rings, Star Wars…) Watter stories het net een veldslag? Presies. Mens onthou hulle nie. Mens onthou die hele oorlog in sy totaliteit, gekenmerk deur veldslae wat alles uit al die helde tap en hulle tot op hulle laaste reserwes toets. En ’n goeie storie maak dit glad nie maklik vir die goeie ouens om te wen nie. Inteendeel, daar moet eers intense verliese gely word, hulle moet eers die laaste van hulle kragte en magte bymekaarskraap voordat hulle weer die vyand ontmoet.

Kan ’n held altyd die hele tyd veg? Nee, want selfs Wonderwoman moet soms tyd vir haarself neem. En rus is ook ’n manier om strategies te dink oor die oorlog so ver en hoe om die vyand, op ’n slim manier, by die volgende veldslag uit te oorlê.

So, wat gaan my Facebook memories volgende jaar op Lupus-dag wees?

Dalk iets in hierdie lyn: Vanoggend was ek die meisie wat net wou wegkruip. Vanmiddag is ek die meisie wat besef dat RUS ’n essensiële strategie is in die lewenslange stryd teen ’n gedugte oponent.  

Deel die artikel met vriende op:


Lewer gerus kommentaar, sal graag van jou wil hoor.

Volg Leandra hier op Facebook