Die Legende van Percy se Wasmasjien

Ons het interessante verhale in ons huis afgespeel en oorvertel is en wat met verloop van tyd soos legendes behandel word. Dit sluit verhale in soos: Rocky die Rampokker – Die worshond reg uit die hel uit. Die misterieuse verhaal van die tante wat in ons huis ná middernag kom wandel. En dan ook die storie van Nala die Nagmerrie – Die onaangename kat wat só verander het dat ons almal hartgebroke was die dag toe sy dood is.

Híérdie verhaal handel egter oor Percy se Wasmasjien.

Nou sien die volgende in jou geestesoog: Kersfees, Pretoria, 2010. Die huis is stampvol mense wat oral ingeprop is. Familie vanuit Holland, Richardsbaai, Newcastle het kom kuier en almal is vir die eerste keer bymekaar vandat my pa vroeër die jaar oorlede is. Daar is geen konflik of ongemak nie, net ’n familie wat bietjie ontspan na ’n baie moeilike jaar.

En toe gebeur die ergste …

Die wasmasjien breek. Die girls was op daardie stadium nog maar klein en in die fase waarin hulle drie keer meer wasgoed as almal saam gegenereer het. Die familie wou ook klerewas en dit was ’n hoë prioriteit omdat ons fisies beknop-naby mekaar geleef het. Vuil onderklere sou dalk net die kosbare balans van welwillendheid en mooi kersfees intensies versteur het. Dilemma. Dis kersfees en Pretoria is morsdood gedurende die tyd. Almal hou vakansie en niemand wil gesteur word met iets so banaal soos ’n wasmasjienkrisis nie. Nadat ons die geelbladsye probeer het (ja, dit was nog iets om te doen in daardie tyd) het Paul besluit om iemand op die internet te gaan soek. Daar was net een webbladsy wat potensiaal getoon het en dit was Percy se … repairs? (Ek kan nie meer mooi onthou nie). Ons was desperaat en duidelik Percy ook, want hy het dadelik die foon beantwoord. Hy was ook verbasend vinnig by ons huis en het intens in ons wasmasjien se oë gestaar. Dit was vermoedelik effektief, want hy het onmiddellik geweet wat die probleem is en was vol vertroue dat hy ons masjien (en ons familie-gemeensaamheid) sou kon red.

Heel bekwaam het hulle opgedaag om ons masjien reg te maak en dit het werklik heel belowend gelyk. Ons het maar aangehou wyndrink onder die lapa en so nou en dan versigtig geloer wat aangaan en vir hulle koffie gemaak. Ure later het hulle gevoelvol verklaar dat Wasmasjien gered is en ons het hulle betaal en verlig asemgehaal. Ongelukkig was die einde nie in sig nie. Percy-hulle moes die volgende dag terugkom om weer met Wasmasjien te konfedereer en einde ten laaste het hy verklaar dat Wasmasjien hospitaal toe moes gaan. In die penarie (maar ook nie stupid nie) dring ons toe aan om asseblief ’n plaasvervanger te kry want, hello, vuil onderklere. Daar is toe onderhandel dat hulle ’n substituut wasmasjien die volgende dag sou bring.

Die volgende dag word Plaasvervanger Wasmasjien gebring en ons groet toe Ou Wasmasjien wat saam met ons die Depressiejare deurstaan het. En Voila, daar het ons ’n vinnige, sterk wasmasjien was beter gewerk het as ons ou model. Ons almal is gelukkig met die geleende wasmasjien, behalwe Wasmasjien self. Percy-die-wasmasjien-whisperer het ook te diep in Wasmasjien se oë gekyk, want ons het hom al gevind waar hy hop-hop-hop oppad by die kombuisdeur uit is. Ons gerusstelling dat Percy gou weer gaan terugkom het egter nie gehelp nie en in retrospek was dit dalk omdat Wasmasjien vir Percy baie goed geken het …

’n Week of wat ná Kersfees begin ek en Paul te wonder hoekom Percy nog nie geskakel het nie. Ons was seker veronderstel om al wasmasjiene te ruil? Die nommer van Percy het egter nie meer bestaan nie. Ons het weer via die webtuiste probeer kontak maak, maar sonder enige sukses. Weke het maande geword, maande mettertyd jare. Ons almal is steeds gelukkig met die ruiltransaksie, behalwe Wasmasjien wat daagliks sy lot bekla .

“Percy … klak-klak-klak … Percy … klak-klak-klak.” En keer op keer moet ons hom by die kombuisdeur gaan haal.

Dis nou amper nege jaar later en Wasmasjien het onlangs gebreek. Paul, wat enigiets kan fix, het gaan Google, kon die regte parte opspoor en na twee verskillende operasies, kan ons met ’n geruste hart weer wasgoed was. Hy het ook die interessante hipotese ontwikkel dat Wasmasjien nie as gevolg van emosionele redes by die deur wou uithop nie, maar dalk ander mediese kwessies het. Helaas, nadat die skokbrekers vervang is toe hop Wasmasjien aansienlik minder en hoef ons hom nie meer by die kombuisdeur te gaan haal nie. Dit is egter wel opmerklik dat hy nou al hoe nader aan die skottelgoedwasser begin beweeg. Toeval? Ek wonder …

Deel die artikel met vriende op:


Lewer gerus kommentaar, sal graag van jou wil hoor.

Volg Leandra hier op Facebook