Uit sync met die wêreld.

Daar was nog altyd ’n paar dinge in my lewe waarop ek kon staatmaak. Ek het nog altyd gemors. Kos, melk, soya sous, Monkeygland burgers by die Spur. Noem dit en dit was al op my klere ’n keer of wat. Iets anders waarmee ek goed was, was die vermoë om sonder rede neer te slaan, óf die een te wees wat die stukkende stoel uitkies om op te gaan sit. Wat ek wel egter ook kon goed doen was om altyd met flair op te staan asook om grappies te maak oor al die vreemde vlekke op my klere. Om met myself al amper 43 jaar saam te leef, moes ek leer lag vir al die vreemde situasies waarin ek al beland het.
Buiten die feit dat ek altyd kon opstaan en aangaan, kon ek nog altyd op my brein reken. My brein kon my nog altyd uit iets dink of praat of iets skerps uitdink om kwyt te raak. Vandat Lupus egter in my lewe ingewals het, het my brein ook besluit om op sekere tye vakansie te hou en my dan met ’n mop in my kop te laat. Wat de hel kan ’n mens met ’n mop vir ’n brein doen? Ek moet dan vrede maak om maar in die bed te lê (want my liggaam is tydens hierdie sessies ook MIA) en Candy crush te speel, want selfs om te spel was buite my vermoë. Gelukkig kon ek nog altyd oor die brain fog (ek moes nou mooi fokus op die spelling) kom en het dan weer opgestaan en aangegaan en probeer grappies maak oor die crappy situasie waarin ek myself bevind het.
Deesdae gaan dit aansienlik beter. Ek is meer gesond as siek. My brein is nie meer konstant ’n mop nie. Ek kan skryf, wat my gesond gemaak het op soveel vlakke. So, wanneer so ’n siek sessie my tref dan is ek super depressed, want, regtig? Is ons nie al ’n duisend keer hierdeur nie?
En die week het iets my weer getêkkel. Of dit Lupus of Fibro of Sjögren was, weet geen mens nie, maar dit het my platgetrek. So buiten my liggaam wat nie lekker werk nie, is my brein ook weer weg, maar daar is ook ander onrusbarende gevolge wat my uitstres. Ek voel totaal uit-sync met die wêreld. Toondoof, wat ek nog nooit was nie. Ek het tans ’n onvermoë om sinne te voltooi en myself uit te spreek wat tans helse konflikte in Huis-Naudé veroorsaak. Ek is tans clueless wat my kinders betref en waardeur hulle gaan. Dit voel of ek strompel-dans, ’n halwe maat agter ander en het my vermoë om grappies te maak daaroor verloor. Selfs my karakters (in boek 3) is tans ontoereikend en sit vas in ’n situasie waarin hulle dalk vir altyd gaan bly. Tensy my brein weer ’n comeback gaan maak en hulle bevry.
Ek probeer regtig om hierdie nou af te sluit met iets positiefs, maar my mop hou my terug. Geseënde Kersfees almal!

Hier volg ‘n kort voorsmakie uit my boek wat op 6 Augustus beskikbaar sal wees.

“‘Goeiemôre, Arriana. Koffie?’ Sy weet nie wat vir haar erger is nie, die verblindende wit lig, die vars seelug of die man wat ontspanne by ’n tafel op die dek sit met sy espresso en koerant. Selfs in die helder sonlig kan Arriana sy oë sien kreukel terwyl hy opstaan en haar vergesel na die ander kant van die tafel, waar sy huiwerig gaan sit. Met oë wat terglustig glinster, skink hy vir haar koffie. So asof dit ’n normale verskynsel is dat sy met haar bikinibroek en sy hemp uit vermoedelik sy luukse kajuit op sy seiljag gestrompel het. Terwyl hy weer oorkant haar gaan sit, kyk hy haar aandagtig en geamuseerd aan. Sy weet sy moet reageer en iets sê maar kan om die dood nie aan iets dink nie, behalwe dat hy inderdaad die mooiste man is wat die planeet bewandel en dat sy spyt is dat sy niks van gisteraand kan onthou nie.”

Diegene wie my baie goed ken weet hoe ek dit verpes om inkopies te doen. En dit sluit álle inkopies (behalwe natuurlik boeke) in. Ek sal veel eerder in ’n coffee shop saam met my gesin, spesiale vriende, met ’n boek of my rekenaar spandeer. Ongelukkig is daar mense in my huishouding wie gevoer moet word, onder andere twee groeiende tienermeisies en het ek dus nie ’n keuse as om gereeld die winkels aan te durf nie.

Daar is egter twee strategieë wat gevolg kan word om die pynlike maandelikse ekskursies beter te laat verloop. Die een is om my dogters saam te neem. Hulle is baie slim, is fikser as ek en hou meeste van die tyd daarvan om die trollie te stoot. Ek kan dan vooruit loop en die belangrike items van die rakke afhaal en met vol arms hulle in die middel ontmoet wat baie tyd spaar. Andersins as ek iets vergeet het (wat om een of ander rede gereeld gebeur), hardloop hulle en gaan haal dit vinnig van die rak af en by die betaalslag, pak hulle die kruidenierware vinniger uit as wat dit opgelui en ingepak kan word. Om saam met hulle kruideniersware te koop is by verre die eerste prys.

Die tweede strategie wat ek gebruik as my meisies nie daar is nie, is om die tyd saam met my karakters te spandeer. Laat ek dit net uitklaar vir my sielkundig-opgevoede vriende. Nee, dit is nie stemme wat in my ore kom fluister of verskillende mense wat my persoonlikheid oorneem nie. Dit is die karakters wat in my verbeelding gebore is en wat in die jaar of twee vandat hulle in my lewe is, werklik lewendig geword het. Hulle is konstant saam met my. Hulle praat en redeneer, raak kwaad en hartseer. Hulle is deel van my opstaan aan die slaap raak, bestuur en ja, inkopies doen. In die wye rakke van verskeie winkelsentrums en kruidenierswarewinkels, het Finn en Arriana menige onderonsies uitgesorteer, kon hulle in onmoontlike situasies beland en ook daaruit kom. Nuwe karakters is al gebore terwyl ek die peanutbutter aangestaar en gekontempleer het of dit regtig nodig is om aan te koop die maand. Ek moes al seker ’n keer of wat hardop die dialoog met die wêreld gedeel het, want ek het al die geamuseerde blikke van mede-kopers gesien. Daar was egter ook al kopers wat blitsig besluit het dat hulle nie regtig toiletpapier vir hierdie maand benodig nie, nadat hulle my daar sien staan het.

Dit het ook al gebeur dat ek in diepte die lot van karakters by die gevriesde groente yskas kontempleer het. Vir die onskuldige en o, so naïewe omstander lyk dit of ek dalk die voedingswaarde van die groente bepaal of dalk tel hoeveel wortels daar moontlik in ’n pak kan wees, maar o, nee. Hier het ek al ’n diaboliese plan of twee uitgewerk hoe om op ’n kreatiewe wyse van irriterende of bose karakters ontslae te raak. (Die moontlikheid dat die vlugtende kopers dalk gevlug het nadat hulle my gesig gelees het, word nie uitgesluit nie.)

My karakters help my om die marteling van inkopies minder te maak, maar is ongelukkig useless as dit by die uitpak van die waentjie by die kassier kom. Dan verkies hulle om eenkant te staan en hulle lewens vir ’n rukkie alleen te oordink. Dit was juis op so ’n dag toe ek skielik moes deel word van die regte wêreld en alleen my hele waentjie moes uitpak. Ek kon nie voorbly om alles uit te pak nie en is te kort om die verste blikkies in die ander hoek te kon kry. Die kassier sou ’n teebreek kon neem en ek sou steeds nie klaar uitgepak gewees het nie. Die enigste uitweg waaraan ek kon dink was om self in die waentjie te klim, want vorentoe of agtertoe sou nie werk nie. Daar het egter ’n man tot my redding gekom. Hy was agter my in die tou, alleen en het net ’n brood of iets in sy hande gehad wat hy moes betaal. Die volgende oomblik het hy begin om my waentjie te help uitpak. Natuurlik het ek dadelik verstar, want ek het nie ’n sent in my beursie nie. Hy het egter my bekommernis gesien en sê toe: “Moenie worrie nie, mamma, hierdie is mahala.” Ek kom net so bietjie tot verhaal toe hy dit weer herhaal. “Hierdie is mahala. Dis soos groet? Dit kos niks.”

Hy het my gehelp uitpak en het my oë weer oopgemaak vir die regte lewe. Hoe mense eintlik nog ordentlik is en wil help. Ek kon skielik sien hoe die kassier regtig moeg lyk en het iemand se oë gevang wat vir my geglimlag het. Daar is soveel karakters in die “regte wêreld” wat ryker en interessanter lewens lei as wat ek in my kop kan optower. Soveel stories wat nog nie vertel is nie. Stories wat ek dalk mis omdat ek heeltemal teveel tyd saam met my karakters spandeer. Ek weet nie wat my weldoener se naam is nie, maar hy het my inspireer om werklik weer notisie van mense te neem. En te glimlag.

 

 

 

Arriana du Toit is ‘n uitgebrande maatskaplike werker wat een dag besluit om uit haar lewe te klim en bedank. Sy begin werk as ‘n kelnerin by ‘n buite restourant van ‘n ekslusiewe hotel in Mauritius en voel vir die eerste keer in jare gelukkig. Daar is egter probleme by die hotel wat dit noodsaak dat Finn O’Reilly, die eienaar van die hotel en ‘n man met ‘n misterieuse verlede, kom ondersoek instel. Hulle ontmoet onder humoristiese omstandighede en is dadelik aangetrokke tot mekaar. Daar is egter ‘n duistere karakter wat hulle soos ’n skim dophou, wat hulle en die mense vir wie hulle lief is se lewens bedreig en hulle nuutgevonde liefde tot op die uiterse gaan toets.

Volg Leandra hier op Facebook