Reis deur ‘n skrywer se hart

Die Imbali trofee word jaarliks toegeken aan skrywers wat uitnemende werk verrig het in die skrywe van romanses. Bo alle verwagting het ek onlangs die toekenning ontvang vir “Reis deur die hart” wat in 2018 deur LAPA publiseer is. Ná al die opwinding (en die daaropvolgende bedrus!) het ek uiteindelik ’n Aanvaardingstoespraak geskryf en wil dit graag met julle deel.

My identiteit was nog altyd in my beroep gesetel. Ek het presies geweet wat om op ’n vorm in te vul wanneer dit wou weet wat ek vir ’n lewe doen. Ek kon die wêreld trotseer met my professionele houding, grimering en gepaste werkspakkie en kon dié identiteit aantrek om my te beskerm tydens sosiale byeenkomste.
Die dag toe alles verander het was toe ek myself in ’n publieke badkamerspieël raakgesien het. Ek was geskok oor hoe leweloos my oë gelyk het en hoe tot op die been gedaan ek was. Ek het daar en dan besef dat ek ’n besluit moes neem. Lupus is nie iets om mee te speel nie en ek moes kies: Gaan ek aanhou werk en iemand anders gaan my kinders na my afsterwe grootmaak of gaan ek ophou werk en hulle mamma wees? Daar was natuurlik nie ’n keuse om te maak nie, want my kinders is my lewe en die idee van vrouens, met hulle mandjiesvol muffins, wat by my man sou kom aanklop het my besluit beklink.

Ek het bedank en ’n splinternuwe reis aangepak want wie is ek, as ek nie werk nie? Koskook is vir my funksioneel en my cupcakes het om een of ander rede altyd heellaaste op koekverkopings verkoop (mettertyd het my meisies maar hulle eie cupcakes begin bak). Ek kan nie naaldwerk doen of hekel nie en alhoewel ek nog nooit gevra is om te loop by ‘n vroue-bybelstudiegroep nie, het hulle heeltemal te verlig gelyk toe ek daar weg is.
Wanneer jy ’n maatskaplike werker is verleer jy die kuns van smalltalk en algemene onderwerpe, wat jy met kollegas kan bespreek, dink meeste vrouens is nie oulik nie. Ek het deur hierdie periode gewroeg met myself, was heeltemal uitgebrand en moes met die verskriklikste dinosourusse aand na aand baklei.

Klink dit dalk bekend? Laat dit julle aan iemand dink?

Arriana het op ’n dag by my opgedaag en saam kon ons wroeg en ons lewens kontempleer. Sy was nes ek heeltemal ontnugter oor die beroep en heeltemal gatvol. Ons wou onder die radar vlieg en sou eerder koffie aandra, vir mense wie dit wou hê, as om ooit weer maatskaplike werk te beoefen.

Ek kon gelukkig vir haar ’n idilliese plek skep waarin sy koffie kon aandra en toe ek myself weer kon kry was dit Arriana met haar eskapades wat die voortou in die reis geneem het. Tot my verbasing kon ek weer lekker giggel, soos byvoorbeeld tydens die Burgerboobs insident, want vanuit haar perspektief was dit baie snaakser as toe dit donkiejare gelede met my gebeur het. Ek het nog nooit van ’n krans afgespring nie en het my asem behoorlik opgehou toe sy dit doen en namens haar gebloos toe haar top in die proses agtergebly het.

Toe sy Finn ontmoet kon ek weer terugdink aan die begin van my en Paul se verhouding en het die vlinders verwelkom wat weer in my maag te voorskyn gekom het. Iewers gedurende hierdie reis het ek gesond geword en myself weer gevind in hierdie fassinerende persoon wat op soveel maniere deel is van my. Ek het in die proses ’n nuwe identiteit gekry en ’n nuwe beroep wat ek op ’n vorm kan invul. Skrywer.

Ek wil dus hierdie ongelooflike toekenning aan die persoon opdra wat integraal deel was van my reis en genesing. Arriana.

Ons het interessante verhale in ons huis afgespeel en oorvertel is en wat met verloop van tyd soos legendes behandel word. Dit sluit verhale in soos: Rocky die Rampokker – Die worshond reg uit die hel uit. Die misterieuse verhaal van die tante wat in ons huis ná middernag kom wandel. En dan ook die storie van Nala die Nagmerrie – Die onaangename kat wat só verander het dat ons almal hartgebroke was die dag toe sy dood is.

Híérdie verhaal handel egter oor Percy se Wasmasjien.

Nou sien die volgende in jou geestesoog: Kersfees, Pretoria, 2010. Die huis is stampvol mense wat oral ingeprop is. Familie vanuit Holland, Richardsbaai, Newcastle het kom kuier en almal is vir die eerste keer bymekaar vandat my pa vroeër die jaar oorlede is. Daar is geen konflik of ongemak nie, net ’n familie wat bietjie ontspan na ’n baie moeilike jaar.

En toe gebeur die ergste …

Die wasmasjien breek. Die girls was op daardie stadium nog maar klein en in die fase waarin hulle drie keer meer wasgoed as almal saam gegenereer het. Die familie wou ook klerewas en dit was ’n hoë prioriteit omdat ons fisies beknop-naby mekaar geleef het. Vuil onderklere sou dalk net die kosbare balans van welwillendheid en mooi kersfees intensies versteur het. Dilemma. Dis kersfees en Pretoria is morsdood gedurende die tyd. Almal hou vakansie en niemand wil gesteur word met iets so banaal soos ’n wasmasjienkrisis nie. Nadat ons die geelbladsye probeer het (ja, dit was nog iets om te doen in daardie tyd) het Paul besluit om iemand op die internet te gaan soek. Daar was net een webbladsy wat potensiaal getoon het en dit was Percy se … repairs? (Ek kan nie meer mooi onthou nie). Ons was desperaat en duidelik Percy ook, want hy het dadelik die foon beantwoord. Hy was ook verbasend vinnig by ons huis en het intens in ons wasmasjien se oë gestaar. Dit was vermoedelik effektief, want hy het onmiddellik geweet wat die probleem is en was vol vertroue dat hy ons masjien (en ons familie-gemeensaamheid) sou kon red.

Heel bekwaam het hulle opgedaag om ons masjien reg te maak en dit het werklik heel belowend gelyk. Ons het maar aangehou wyndrink onder die lapa en so nou en dan versigtig geloer wat aangaan en vir hulle koffie gemaak. Ure later het hulle gevoelvol verklaar dat Wasmasjien gered is en ons het hulle betaal en verlig asemgehaal. Ongelukkig was die einde nie in sig nie. Percy-hulle moes die volgende dag terugkom om weer met Wasmasjien te konfedereer en einde ten laaste het hy verklaar dat Wasmasjien hospitaal toe moes gaan. In die penarie (maar ook nie stupid nie) dring ons toe aan om asseblief ’n plaasvervanger te kry want, hello, vuil onderklere. Daar is toe onderhandel dat hulle ’n substituut wasmasjien die volgende dag sou bring.

Die volgende dag word Plaasvervanger Wasmasjien gebring en ons groet toe Ou Wasmasjien wat saam met ons die Depressiejare deurstaan het. En Voila, daar het ons ’n vinnige, sterk wasmasjien was beter gewerk het as ons ou model. Ons almal is gelukkig met die geleende wasmasjien, behalwe Wasmasjien self. Percy-die-wasmasjien-whisperer het ook te diep in Wasmasjien se oë gekyk, want ons het hom al gevind waar hy hop-hop-hop oppad by die kombuisdeur uit is. Ons gerusstelling dat Percy gou weer gaan terugkom het egter nie gehelp nie en in retrospek was dit dalk omdat Wasmasjien vir Percy baie goed geken het …

’n Week of wat ná Kersfees begin ek en Paul te wonder hoekom Percy nog nie geskakel het nie. Ons was seker veronderstel om al wasmasjiene te ruil? Die nommer van Percy het egter nie meer bestaan nie. Ons het weer via die webtuiste probeer kontak maak, maar sonder enige sukses. Weke het maande geword, maande mettertyd jare. Ons almal is steeds gelukkig met die ruiltransaksie, behalwe Wasmasjien wat daagliks sy lot bekla .

“Percy … klak-klak-klak … Percy … klak-klak-klak.” En keer op keer moet ons hom by die kombuisdeur gaan haal.

Dis nou amper nege jaar later en Wasmasjien het onlangs gebreek. Paul, wat enigiets kan fix, het gaan Google, kon die regte parte opspoor en na twee verskillende operasies, kan ons met ’n geruste hart weer wasgoed was. Hy het ook die interessante hipotese ontwikkel dat Wasmasjien nie as gevolg van emosionele redes by die deur wou uithop nie, maar dalk ander mediese kwessies het. Helaas, nadat die skokbrekers vervang is toe hop Wasmasjien aansienlik minder en hoef ons hom nie meer by die kombuisdeur te gaan haal nie. Dit is egter wel opmerklik dat hy nou al hoe nader aan die skottelgoedwasser begin beweeg. Toeval? Ek wonder …

Die dag toe die meisie net wou Wegkruipertjie speel.

Dit is Wêreld Lupus dag. Twee jaar gelede was daar ’n meisie wat opgewonde haar manuskrip-baba by ’n Postnet afgelewer het en ’n pragtige foto op Facebook geplaas het. ’n Jaar gelede het dieselfde meisie  met vuur en vreugde haar manuskrip afgerond vir publikasie en het blinkoog die tweede boek klaargeskryf. Dis sy wat ook amper arrogant verklaar het dat sy die meisie is wie Lupus, oftewel die Wolf, se gat gaan skop. Hoekom het hierdie dag soveel betekenis? En waar is die meisie vandag ’n jaar later? Ernstig besig om te wonder wie, wie se gat op die oomblik skop. My vermoede is dat ou Wolfie voorloop met punte terwyl ek iewers in ’n bolletjie sit en wegkruip.

Hoe het dit gebeur dat die dapper meisie vandag voel of sy ernstig gefaal het? Dat sy alleen gelos wil word om haar selfoonspeletjies te speel en haar zombiestories te kyk? Wat net so nou en dan met die werklikheid kontak maak. Netbalwedstryde bywoon, afsprake maak en nakom, gesinslede voer? Dit is ’n baie goeie vraag. Wat het met my gebeur? Was dit die afgelope ses maande waarin ek vir elke kriesel energie moes verantwoording doen? Getref was deur ’n onvermoë om te dink en te skryf? Frustrasie, met my lewe wat nie aan die gang kan kom nie, ervaar? Dat ek nie kan beplan nie, omdat elke dag ’n nuwe uitdaging en soms simptoom na vore bring, ten spyte daarvan dat ek alles volgens die reëls doen en steeds siek bly?

Vanoggend was een van daardie dae. Ek het moeg opgestaan (normale verskynsel), het pyn in  my lyf, op my vel, tot op my kopvel ervaar. So, toe ek na my memories op Facebook kyk word ek gebombardeer deur my vorige-jare-self se absolute en naïewe geloof dat die stryd wat gevoer word, gewen kan word. En dis hoekom ek vanoggend, ten spyte van alles wat teen my getel het, gaan stort en hare was het. Hel, ek het selfs maskara opgeplak. Nou sit ek in die Wimpy, besig met my tweede koppie koffie, terwyl ek my lot by my getroue laptop-mater bekla (betik?). Is daar ’n wonderwerk in wording? Gaan ek uitdraf en begin sing soos ’n Disney-prinses?

Nee, maar wat ek wel vanoggend besef het, is dat die Stryd teen Lupus nie ’n eenmalige boksgeveg is nie. Nee, dit is ’n bloedige oorlog met moordadige veldslae. (Ek wil net noem dat ek ’n ekspert is op oorloë: Game of thrones, Lord of the Rings, Star Wars…) Watter stories het net een veldslag? Presies. Mens onthou hulle nie. Mens onthou die hele oorlog in sy totaliteit, gekenmerk deur veldslae wat alles uit al die helde tap en hulle tot op hulle laaste reserwes toets. En ’n goeie storie maak dit glad nie maklik vir die goeie ouens om te wen nie. Inteendeel, daar moet eers intense verliese gely word, hulle moet eers die laaste van hulle kragte en magte bymekaarskraap voordat hulle weer die vyand ontmoet.

Kan ’n held altyd die hele tyd veg? Nee, want selfs Wonderwoman moet soms tyd vir haarself neem. En rus is ook ’n manier om strategies te dink oor die oorlog so ver en hoe om die vyand, op ’n slim manier, by die volgende veldslag uit te oorlê.

So, wat gaan my Facebook memories volgende jaar op Lupus-dag wees?

Dalk iets in hierdie lyn: Vanoggend was ek die meisie wat net wou wegkruip. Vanmiddag is ek die meisie wat besef dat RUS ’n essensiële strategie is in die lewenslange stryd teen ’n gedugte oponent.  

Deel 2: Deur die Mis

Lupus fog is a general name for the cognitive impairments that often appear with lupus, including concentration and memory problems, confusion, and difficulty expressing yourself. These cognitive problems are often worse during flares. WebMD December 2010

Die laaste organisasie waarby ek as professionele persoon gewerk het, was in Bronkhorstspuit geleë. Ek het gelukkig deeltyds vir hulle gewerk maar moes steeds ten minste drie keer per week die pad van Pretoria na Bronkhorstspruit aandurf. Gedurende sekere tye van die jaar het daar ’n vreemde verskynsel oppad voorgekom. Mis. Nie sagte mis waarin jy stukkies werklikheid kan uitken nie, maar digte, ondeurdringbare mis wat om jou kar kom lê het en wat gedreig het om die asem in jou lyf uit te druk. Wanneer dit gebeur het moes jy aanhou ry en hoop dat al die ander karre dieselfde gaan doen. Jy kan nie dit waag om te stop nie, want jy het geen benul van wat om jou aangaan nie en jy bid dat daar niks voor jou in die pad is wat dalk gestop het nie. Ek het baie oor geloof en gebed geleer tydens sulke oggende en hoe vrees verdryf kan word deur hardop te bid of Jesus-liedjies te sing. My omswerwinge met ou Wolfie laat my by kere baie dink aan hierdie ervarings.

Ek is baie geheg aan my brein en kon nog altyd op haar staatmaak in enige situasie onder die son. Hetsy ek opleiding moes doen en ’n haas uit ’n hoed moes trek, vergaderings lei en blitsig beplan of ’n moeilike kollega hanteer, nuwe aktiwiteite in terapie uitdink om ’n besige kind te stimuleer. My brein was altyd daar. ’n Entiteit in my lewe wat in ’n groot mate my selfwaarde bepaal het. Die dag toe die Groot Mis op my brein toegesak het het ek my op ’n vreemde weg bevind wat nie eenvoudig genavigeer kon word nie. Die eerste oomblik toe ek besef het dat ek in die moeilikheid is, was die dag toe ek ‘Cornwall Hill’ in my dagboek wou neerskryf. My kinders het ’n netbalwedstryd teen hulle gehad en ek kon om die dood nie onthou hoe om die woord te skryf nie. Ek het dadelik paniekbevange begin raak, want Spelling was my en my brein se kos. Ander verrassings het na vore getree. Ek kon om de dood nie mense se name onthou nie, woorde het my ontbreek, ek moes in die middel van ’n sin ophou praat omdat ek vergeet het waaroor ek gepraat het. Dae van die week en maande het inmekaar gevloei en ek het net met moeite beweeg om niks belangriks te mis of te vergeet nie. Ten spyte daarvan het ek darem nooit my kinders by die skool vergeet of nie ’n wedstryd of selfs oefening gemis nie. Ander dinge, wel. Soos wat die mis oppad Bronkhorstspruit my in my motor van die buitewêreld isoleer het, het die Lupus Mis my van mense begin isoleer. Om binne ’n sosiale situasie te funksioneer terwyl jou brein MIA is, is bitter moeilik en vir ’n paar jare het ek identiteitsloos begin voel. Ook begin twyfel in  my selfwaarde.

Mettertyd het ek darem besef dat die periodes in die mis helaas verbygaan, maar elke keer as ek in die middel daarvan is, het ek gedink dat dit vir altyd my brein gaan wees. En dat ek maar dit moet aanvaar.

Om elke keer weer myself op te trek en te bou, na ’n mis-sessie was uitputtend om die minste te sê. Ek het egter in die tydperk begin skryf en ten spyte van die feit dat my spelling en sinskonstruksie is sy dinges was, het ek ’n manier gevind om myself te herontdek. Ek vermoed dat skryf ’n reuse aandeel gehad het in die feit dat dit vir ’n lang periode regtig goed met my gegaan het. Die laaste drie maande was ek egter in die midde van die digste mis waarin ek myself nog ooit bevind het. ’n Verwoestende uitputting, waar ’n goeie dag as ’n ‘een-nap’ dag geklassifiseer kon word. ‘Twee-nap’ dae was uitdagend, maar daar was ook dae waar ek die hele dag in die bed moes bly, sodat ek my meisies by die skool kon oplaai en kosmaak. Die feit dat ek niks kon skryf nie, het my verder afgedruk, totdat ek gevoel het soos destyds toe ek met my karretjie die mis moes trotseer. Ek het geweet ek moet deurdruk, ten spyte van die vrees wat my asem gesteel het.

Deur die Here se genade kon ek weer deur die mis worstel en het weer begin skryf. Dit het aanvanklik stadig gegaan, maar ek het weer verlief geraak op my karakters en hulle journey en edit vir ’n vale. Die geveg vir my brein tussen my en Wolfie is maar ’n voortdurende stryd. Maar intussen beur ek voort: Deur die Mis.

Rooikoppie en die dag toe Wolf sy naam gekry het.

Lupus is a systemic autoimmune disease that occurs when your body’s immune system attacks your own tissues and organs. Inflammation caused by lupus can affect many different body systems — including your joints, skin, kidneys, blood cells, brain, heart and lungs. Mayo clinic

Lupus takes its name from the Latin word “lupus”, meaning wolf. This is because a lupus-caused rash on a person’s face makes the person’s face look like the face of a wolf. Wikipedia

Ek het nog altyd geweet van die Wolf, maar kon nog nooit sy buitelyne identifiseer en vir hom ’n naam gee nie. Die dag toe ek uiteindelik by ’n dokter uitkom wat moontlik ná jare van siekwees antwoorde kon gee was ek semi-uitgefreak, maar ook hoopvol. Ek het ’n dag verlof ingesit en die dokter gaan sien met my 35-jarige lyfie, rooiblonde hare (dit was my boksiekleur op daardie stadium) en kort sonrokkie. Die groot man met die grys hare het by die ontvangsarea ingedonder. Nie onvriendelik nie, net hél dominerend. Die Alpha-male van rumatoloë. Hy het opgekyk van ’n leêr en geroep: “Mev Naudé?” Ek het opgekyk. “Kom, Rooikoppie.” My eerste gedagte: Shit. Is my hare só rooi? Ek het maar opgestaan en hom na sy kantoor gevolg. Hy het na my gekyk en opgemerk: “Nee, wat. As ek jou nou van naby bekyk, kan ek sien jy is nie meer so ’n spring chicken nie.” Ten spyte van my openlike frons oor sy opmerking moes ek toe my hele geskiedenis, vir die soveelste keer, aan ’n dokter voordra. Hy het al die vorige doktersverslae en toetse op my leêr bestudeer en my eers gestop ná my simpel grappie dat dit dalk net ’n opportunistiese virus is.

“Mevroutjie, jy het nie ’n virus nie, maar ’n chroniese, ongeneeslike siekte met die naam, Lupus.”

“Wa …” was my intelligente reaksie, wat geëindig het in ’n oopmond-kyk wat die teendeel gespreek het.

“Dis ’n siekte wat nooit gesond gaan word nie en waarvan jy kan doodgaan.”

“Wa…” daar gaat ek alweer met die wêreld se idiotiesste uitdrukking. Gelukkig het dit nie gelyk of hy dit enigsins raakgesien het nie.

“Maar, wees gerus. Daar is medisyne wat gebruik kan word om te keer dat jy nie doodgaan nie.”

Doodgaan. Ekskuus? Hierdie keer het ek nie eers probeer praat nie, want die dokter het blykbaar vergeet dat ek daar is en net voortgegaan.

“Daar is medisyne wat baie suksesvol werk, maar dit kan jou blind maak. So jy moet elke jaar ’n oogspesialis besoek om seker te maak dat dit nie jou oë toksies maak nie. Dan is daar ander medikasie wat jou vet gaan maak én osteoporose veroorsaak en ander meds wat jou immuniteit so kan verlaag dat dit jou witbloedseltelling negatief beïnvloed.”

Wat? Whooa, Boetman. Vet word? Weer? Ek het nou net van my laaste kind se geboorte, vyf jaar gelede, na my oorspronklike vorm teruggekeer. Hy gaan egter verder terwyl ek vashaak by die onbelangrikste newe-effek van alles en besef dat sy relaas verby is toe hy opstaan.

“Enige vrae, mevroutjie?” Hy identifiseer my gesigsuitdrukking korrek as bomskok en klap my saggies op my skouer. Saggies? Sy hande is massief.

 “Toemaar, Ounooi, dit is werklik nie jou skuld of iets wat jy verkeerd gedoen het nie. Dit is maar soos ’n pokerspel waar jy nie die kaarte kan beheer wat jy optel nie. Lupus is nou ongelukkig jou kaart, maar ek kan om die hoek keelaf gesny word vir my beursie, of ’n ander ou  kan deur ’n bus omgery word. Sterkte.” Hy het saam met my na die ontvangsarea uitgestap, die dames beveel om my siekte as chronies by my mediese fonds aan te meld en my ’n voorskrif in die hand gestop. Hy het toe sy volgende slagoffer nadergeroep.

Hoe het dit my laat voel? Soos die ongelukkige ou wat deur die bus omgery is.

Dit het my jare geneem om met die realiteit van ’n chroniese siekte te deal en ek glo die manier hoe hy dit hanteer het, het die grootste aandeel daarin gehad. Daar was wel ’n positiewe uitkoms wat vanuit hierdie treinramp ontstaan het en dit was dat ek uiteindelik, na jare se siekwees, uitgevind het wat met my fout is. Ek het ook kliniese bewyse gekry dat ek my eie slegste vyand is (ha ha, Lupus grappie). Ek kon hierdie ook as ’n uitstekende voorbeeld, met my opleiding aan professionele mediese personeel in pediatriese palliatiewe sorg, gebruik hoe om nié slegte nuus aan pasiënte en hulle families oor te dra nie. Ek  is ook definitief versigtiger vir busse as ek oor die straat loop.

Ek dink ek het die dokter net een keer weer daarna gesien en toe het hy sy praktyk na iewers by die kus verskuif. Ek is gelukkig nou by die ongelooflikste rumatoloog en is uiters dankbaar dat my paaie nie weer die dokter s’n gekruis het nie. Is ek kwaad vir hom? Nee, ek wens hom alles van die beste toe, maar hoop hy gaan versigtig wees. Daar is seker ook busse daar waar hy is en wie weet. Shit happens.

Die volgende resensie is geskryf as deel van ‘n Graad 9 Afrikaans opdrag.

Van melktrane na dinosourus-drome besef die uitgebrande Arriana du Toit dat Maatskaplike werk nie meer vir haar is nie. Sy het haar passie om ’n verskil te maak verloor en is moeg daarvoor om ander mense se probleme vir hulle op te los. Dan, met twee woorde, verander sy haar hele lewe: “Ek bedank.”
Sy bevind haarself in Mauritius met sy spierwit strande en diepblou waters, as ’n kelnerin by die vyfster-hotel waar sy ’n klomp nuwe vriende maak en haarself in die onmoontlike situasies laat beland. Veral wanneer die hoteleienaar, Meneer O’Reilly, sy verskyning maak en haar hart ’n nuwe ritme laat klop.
Maar wanneer haar maatskaplike “spidey sense” inskop, besef sy dat alles nie pluis is nie. Hoekom is die hotel besig om ’n ster te verloor en wie is die vreemde man wat vir haar koue rillings gee?
Leandra Naudé is ’n wonderlike skrywer met ’n nuwe, vars stem wat haar talente vir die heel eerste keer vir die wêreld wys.
As jy hou van ’n romantiese liefdesverhaal ingekleur met ’n bietjie spanning en skreeusnaakse scenarios, is hierdie die perfekte boek vir jou.

– Andrea Naudé is ’n vryskut resensent van Pretoria.

Baie dankie vir Naliche Malan vir hierdie besonderse resensie oor “Reis deur die hart” hier op Romansa.co.za.

Lees gerus haar resensie hier op Romanza.co.za se webblad:

Ek is ’n reeksmoordenaar.
My slagoffers: Plante.

Dit is nie iets wat ek beplan het om te wees nie en my intensies is altyd goed om die arme groen goedjies in my huis water te gee. Maar ek kon nog nooit die regte balans vind tussen teveel en te min water, sonlig, fisiese kontak, gesprekvoering en welke ander dinge wat nodig is om ’n plant te laat oorleef nie. Toe ek die vreemde gevoel kry in daardie deurmekaar tyd na my bedanking (sien vorige blogs) om ’n groentetuin te begin, het ek aanvanklik gedink dit is ’n Lupus-hallisunasie ding. Dit was egter nie ’n gevoel wat verdwyn het nie, inteendeel dit het net versterk met tyd. Dit sou egter uiters geharde plante moes wees om mý te oorleef. Ons (en daarby bedoel ek Paul) het ’n stuk van ons tuin skoongemaak en ek het ’n harde voorwerp (ek dink hulle noem dit ’n graaf?) ’n paar keer in die grond gedruk, ’n sak waarop daar “Kompos” staan oor die grond gestrooi en toe was ons kleine stukkie grond gereed vir aksie. Ek het vir ‘n uur in die winkel na die saad gestaar voordat ek besluit het watter van die saad die gelukkige wenners gaan wees en was stomgeslaan oor die verskillende kleure, groottes en teksture. Ek kon nie glo dat sulke kleine stofkorreltjies die potensiaal het om te groei in ’n plant wat ons mettertyd kan eet nie, maar het in elk geval maar die saadjies geplant. Ek is nie regtig groot op reëls en resepte nie, maar het darem dieselfde saad om en by in dieselfde area geplant. En toe het ek gewag. En gewag. En gewag. Ek het getrou gesorg dat hulle water kry en sou ook reëndanse uitgevoer het as dit is wat nodig was om hulle nie te laat sneuwel nie. Ek was elke dag, oggende en laatmiddae, getrou daar om te kyk of iets al gebeur het en het met my babatjies gepraat, bemoedig en dalk voor gesing ook. Op ’n dag het die wonderwerk gebeur. Die saad het begin opkom en elke blaartjie was uniek en die heel beste van alles? Die groei het plaasgevind sonder dat ek nodig gehad het om iets te doen en blommetjies het later in die oulikste vruggies ontwikkel wat ons uiteindelik kon pluk.

In retrospek wat was nou die doel van die hele oefening? Terwyl ek my tuin begin het, het ek ook die gevoel gekry om ’n boek te skryf. En dit was ook ’n gevoel wat met tyd versterk het. Om ’n boek te skryf verg baie, ek herhaal, baie geduld en nie al die saadjies wat jy plant ontwikkel in ’n vrug nie. Die boek en groentetuin was dus parallelle prosesse om Leandra geduld te leer. My gedrewe vorige lewe het nie plek gehad om mense (en dit sluit myself in) en prosesse toe te laat om rustig te groei om hulle volle potensiaal te bereik nie. Ek moes geduld leer om myself toe te laat om te kan groei, hetsy in die tamatie of pampoen waarvoor ek bestem is. (Dalk is pampoen nie die regte voorbeeld om te gebruik nie.)

Saterdag het Paul, ek, die girls en Frodo-die-kat (alhoewel hy meer geïntereseerd in die proses was as wat hy gehelp het) weer saadjies geplant en hier sit ek vanoggend op my geliefkoosde skryfplek en loer kort-kort na die tuin en die potensiaal wat dit inhou. Ek is nie seker wat ek hierdie keer moet leer nie, maar ek het ’n gevoel dat dit iets met my gesondheid te doen het. Na die opwinding van die boekbekendstelling het my lyf ingekonk en selfs na die behandeling sukkel ek om regtig weer aan die gang te kom met die verlammende moegheid wat ’n konstante metgesel is. Dalk wil my tuin my weer leer dat dit oukei is vir my om soos die saad vir ’n wyle te rus, geduldig te wees en vrede te vind in die wete dat groei nie van my insette afhanlik is nie, maar van ’n Groter Hand wat net die beste vir my wil hê

Ek het vergeet dat ek altyd graag ’n skrywer wou wees. Ek was so besig om in my beroep uit te staan en te overachieve dat ek iets van my laat agterlaat het in my resies teen myself en ander. Dit was Lupus wat my tot die lewe teruggeroep het. (Ek is egter nog nie gereed om vir die wetter dankie te sê nie.) Hierdie outo-immuun siekte het my gedwing om op te hou met werk en vir my ’n nuwe identiteit te skep, want ek moes skielik daaraan begin dink toe ek nie meer ’n Beroepsvrou kon wees nie. Wie is ek nou as ek nie ’n maatskaplike werker kan wees nie?
Juis dié spesifieke vraagstuk het my by weird en wonderful plekke uitgebring. Ek het vrouegroepe probeer, maar het altyd vasgesit met die “hoofmeisie” van die groepe. Bybelstudie groepe het ek ook probeer, maar as jy vir ’n lang ruk ’n maatskaplike werker was, verskil jou insigte en humor heeltemal, totaal van die ander. Ek was ’n mamma vir my kinders wat alles gegee het, altyd daar was orals, maar kon nie suksesvolle cupcakes bak vir watter situasie opgeduik het nie. Dit het net bygedra tot my krisis. Wie is ek nou?
Deur om Skryf te herontdek het ek ’n deel van myself ontdek wat lank vir my verlore was. Skielik kon ek ’n manier vind om my “weirdness” te kan neerpen op ’n manier wat mense “fassinerend” vind. Skielik het ek iets, buiten my gesin, ontdek wat my sterre in my oë gegee het. Skielik kon ek myself uitleef en besef dat dit nie regtig belangrik is dat ek nie die bobaas- bakster-van-biesiesvlei is nie. Om te wees wie ek is, is heeltemal oukei en almal is vir my lief as gevolg (of dalk ten spyte?) daarvan.
Môre moet ek weer hospitaal toe gaan om Lupus/Fibro/etc/etc in die oë te staar met ’n 3-dag behandeling wat regtig baie van my en my gesin gaan eis. Hierdie keer gaan dit egter beter wees. Hoekom? Want ek is nie meer net ’n pasiënt nie, maar ’n Skrywer. Wat enige crappy situasie sal kan omdraai in iets wat regtig ’n verskil kan maak. En wel, as my karakters ook iets kan leer in hierdie tyd of ek dalk mediese kennis kan kry hoe om ’n irriterende karakter te laat sneuwel. Hoekom nie?

Paul was nog altyd een wat die kreatiefste verrassings kon inisieer. Ons is bykans 22 jaar getroud, maar hy het dit weer eens reggekry om my totaal stom te slaan.

Dit was ’n gewone Vrydag. Behalwe dat ons jongste dogter die aand ’n skoolsokkie aanhet was dit ’n rustige naweek wat sou voorlê. Hy laat weet die middag dat hy ons so half vier kom haal vir ’n gesinsuitstappie. Dit was ’n vreemde versoek, maar hy het baie interessante plannetjies partykeer en ons het geleer om maar net daarmee saam te gaan. By die huis is ons in die kar geboender en ek het niks gedink van die feit dat die meisies lank geneem het om in te klim nie. Dit is maar gewoonlik ’n normale verskynsel en my brein was nog MIA (sien blog). Volgens Paul sou ons ’n oulike winkeltjie naby TUT besoek, waaroor ek gefrons het, want die middagverkeer is crazy op ’n Vrydag. Hy het egter kalm en heel in beheer gelyk en my verseker dat ons dogter betyds vir die sokkie gaan wees. Heeltemal gerus gestel kon ek my gedagtes weer op die moeilike scenario waarmee ek besig was in die nuwe boek, bepaal. Toe ek egter weer bykom, besef ek ons is in Sefako Makgatho (Zambezi) weg. Nie naastenby naby aan TUT nie. Paul sê egter dat dit die beste pad is wat die GPS voorstel en selfs toe hy by ’n winkelsentrum indraai, het ek absoluut niks vermoed nie. Daar was ’n mandjie in sy hand wat hy vinnig verduidelik het en hoe nader ons aan die winkel gestap het, hoe wakkerder het ek geword. Omdat boekwinkels my heelbeste plekke in die wêreld is, het ek dadelik die helder groen, “Graffiti”, herken. In stadige aksie het my oog op die helderpienk boeke geval en het onmiddellik geweet dat dit my boek is wat op die rakke uitgestal word.

Dis moeilik om te beskryf hoe ek op daardie oomblik gevoel het. Verskriklik dankbaar, opgewonde, bly, maar ook ontroerd. Dit het kompleet soos ’n geboorte, wanneer jy jou babatjie vir die eerste keer ontmoet nadat sy vir nege maande lank persoonlik deel van jou was, gevoel. Soos met my dogters se geboortes het ek, ook toe ek my boek vir die heel eerste keer vashou, in trane uitgebars omdat die oomblik net te groot was. Dis eers toe ek besef het ek word afgeneem, dat daar sjampanje in die mandjie was en dat Paul maande terug al die boek bestel het. Ons het fotos geneem en ek moes die boeke teken, wat ek aanvanklik nie kon doen nie, omdat ek teveel gebewe het.

Dankie aan almal by Graffiti wat die oomblik so spesiaal vir my gemaak het. Hulle het ’n opregte waardering, liefde en respek vir boeke en ek weet hulle kyk nie net mooi na my baba nie, maar ook na al die ander skrywers se babas.

Dankie Paul en my liefste meisies dat julle hierdie baie spesiale oomblik met my gedeel het en dat dit ten spyte van die geheimhouding en wit leuens, die wonderlikste verrassing ooit was.

Volg Leandra hier op Facebook