Reis deur Geheime nou beskikbaar!

Reis deur Geheime, die laaste hoofstuk in die Reis-reeks, vaar deur die onbekende skaduwees van Finn se verlede en geheime wat hy diep weggebêre het. Kan hy Arriana vertrou met die nagmerrie wat die verloop van sy lewe verander het? En hoe kan hy haar beskerm teen sy skaduwees wat weer gestalte gevind het en dreig om hulle lewens en nuutgevonde geluk te verwoes?

Leandra se debuut romanse ‘Reis deur die hart’ (LAPA) is die eerste boek in die reeks waarvoor sy die ROSA Imbali trofee gewen vir ‘Uitmundenheid in die skryf van romanses’. Die tweede boek, ‘Reis deur klatergoud’ word deur Madsock (‘n kombinasie van die talente van Paul en Leandra Naudé) uitgegee en is beskikbaar by Amazon, Graffiti Boeke en Groep 7 drukkers.
“Daar was eenmaal ’n man wat gedink het dat sy lewe uitgesorteer en agtermekaar was. Hy het gedink hy is gelukkig en dat sy lewe volmaak was, alhoewel hy soms gevaarlike en onverantwoordelike dinge aangevang het om lewendig te voel. Hy het egter een aand op ’n strand ’n meisie se silhoeëtte gesien, min wetende dat sy lewe daar en dan eers sou begin.”
- Finn se woorde aan Arriana in die lekkerlees roman, Reis deur Geheime deur Leandra Naudé

Proloog

Hy kon nog altyd in sy drome vlieg. Nie soos Thor met sy hamer, Iron Man met sy ysterbroek of Batman met sy superkatoeters nie. Nee, hy kon soos Peter Pan net sy arms uitstrek en opstyg, deur die lugstrome gly en die vars, skoon lug van die atmosfeer bokant Dublin inasem. Sy kreupel liggaam, wat hom altyd op die grond vasgepen het, was egter perfek geskape om te sweef en hy kon heerlik sy tong uitsteek vir die krukke wat hy agterlaat. Die moeilikste deel van hierdie wonderlike drome was dat hy altyd moes terugkeer na die werklikheid. Die nat kopkussing, sy liggaam, die reuke en geraas van die vuil strate in Dublin. Sy lewe....

Hy trek sy krukke nader aan sy lyf toe hy versigtig oor die afgrond loer. Die kranse van Moher aan die westekant van Ierland is asembenewend hoog en die windjie hierbo is geniepsig genoeg om hom sommer van sy krukke af te waai as hy nie pasop nie. Die stap tot hierbo was ook verder en steiler as wat hy verwag het en sy arms en bene voel soos jellie. Dit was egter uit-en-uit die moeite werd, want dit is by verre die mooiste mooi wat hy nog ingeasem het.

Dit is een van daardie rare, wolklose dae in Ierland. Steeds bibberend koud, maar skoon, blou lug wat die uitgestrekte oseaan by die horison ontmoet en die indruk skep dat die see en die lug nie kan ooreenstem wie waar begin of eindig nie. Hy is aanbeveel om laatmiddag te kom wanneer al die propvol toeristebusse almal weg is en hy het die kranse, see en lug net vir homself. Hierbo het hy ook die vrede, wat hom nog altyd ontwyk het, gevind. Dit het moontlik te doen met die feit dat hy uiteindelik gepraat het oor wat vyf en twintig jaar gelede gebeur het. Anoniem in ’n bieghokkie, maar darem. Dit was juis hy wat Andy laat besluit het om die ver ent te trotseer en toe te laat dat die bries hierbo kans kry om hom gesond te waai. Dalk is dit die begin van algehele vryheid vir hom. Vryheid om uiteindelik ná soveel jare dapper genoeg te wees om sy vriend in die oë te kyk en die vrou te ontmoet wat die onmoontlike reggekry het. Hy droom ook daarvan om saam met sy beste vriende, broers, te kuier en oor die verlede te gesels, sonder dat die donker wolk op hom toesak. Dalk sal hy ook nou dapper genoeg wees om daardie oulike kelnerin wat by die Drunken Ducklings werk, uit te neem. Vyf en twintig jaar was heeltemal lank genoeg om te wroeg.

’n Skielike rukwind pluk die krukke uit sy arms en laat hom wankelend, van balans af. Vir ’n oomblik huiwer hy tussen hemel en aarde totdat die wind weer toeslaan om hom oor die krans te stoot. Instinktief steek hy sy arms uit en vir ’n enkele asemteug voel dit of hy sweef, voordat gravitasie hom vind en hom na die aarde toe laat tuimel. Dit was nie ’n rukwind wat hom van sy krukke en lewe beroof het nie, besef hy in ’n oomblik van helderheid. Die wie of wat is egter nie meer belangrik nie, want elke asemteug word kosbaarder en elke hartklop onvervangbaar.

Is dit hoe alles eindig? wonder hy toe hy op die punt kom waar lug en oseaan ontmoet. Of is dit hoe alles begin?